Die tesourie het miskien nie belastingkoerse vir rykes opgestoot soos baie ontleders verwag het nie, maar daar is voorstelle in vanjaar se begrotingsoorsig wat neerkom op welvaartbelasting. Die voorstelle oor hoe trusts in die toekoms belas sal word, sal die manier waarop welgestelde Suid-Afrikaanse families hul sake orden, vir altyd verander.
Die eerste voorstel is om die insluitingskoers van toepassing op die kapitaalwinste van maatskappye en trusts van die huidige 66,6% na 80% te verhoog. Die insluitingskoers is die persentasie van die jaarlikse kapitaalwinste wat by belasbare inkomste ingesluit word om dan teen normale belastingkoerse belas te word. ’n Insluitingskoers van 80% beteken dat kapitaalwinste in trusts prakties teen 32,8% belas sal word, terwyl gewone inkomstes teen 41% belas word.
Dié verhoging van die insluitingskoers laat dit lyk of Thomas Piketty, die Franse ekonoom wat Suid-Afrika verlede jaar besoek het, se oproep dat kapitaalgroei meer aggressief belas word, byval gevind het by die regering. Piketty meen kapitaal groei vinniger as die vergoeding van arbeid en dat dit welgestelde mense bevoordeel en ongelykheid vererger. Die feit dat die regering meer inkomste in die komende jare nodig gaan hê om hom uit sy fiskale penarie te red, maak dit baie waarskynlik dat die insluitingskoers van toepassing op kapitaalwinste in die afsienbare toekoms, wat maatskappye en trusts betref, tot 100% sal verhoog. Dit sal wesenlike beperkings plaas op welgestelde families se vermoë om in die toekoms hul welvaart te vergroot, ’n stap tot voordeel van die staatskas.
Regter Dennis Davis, die voorsitter van die Davis-belastingkomitee, het in Desember 2015 op ’n konferensie waar hy ’n groep belastingpraktisyns toegespreek het, verwys na die nuwe manier waarop die regering beoog om bates wat in ’n trust gehou word, te belas. Davis het baie kortliks verduidelik dat hierdie voorstel daarop neerkom: As ’n trust deur ’n rentevrye lening van ’n sekere omvang gefinansier is, sal aanvaar word dat die persoon wat die lening uitgeneem het, soveel invloed oor die trust kan uitoefen dat hy in werklikheid die bates van die trust sal kan beheer. Dit sal tot gevolg hê dat al die onderliggende bates van die trust, by so ’n persoon se afsterwe, by die waarde van sy boedel ingesluit sal word vir die berekening van boedelbelasting daarop. Dit is ten spyte daarvan dat sy boedel nie die bates in die trust besit nie.
Die volgende wat ons van hierdie voorstel hoor, is ’n baie kort en kriptiese paragraaf in die begrotingsoorsig wat verwys na maatreëls om belastingvermyding deur die gebruik van trusts aan bande te lê. As ons die beperkte inligting tans beskikbaar streng op sigwaarde interpreteer, is één manier waarop die voorstel verstaan kan word soos volg: Waar bates aan ’n trust verkoop word teen ’n leningsrekening en daardie leningsrekening van ’n sekere omvang en rentevry is, sal die rentevrye lening as ’n skenking belas word. Die onderliggende bates van die trust sal by die afsterwe van die persoon wat die lening verskaf het, ook ingesluit word by sy boedel vir die berekening van boedelbelasting.
Dié interpretasie gee egter aanleiding tot so baie vrae dat daar net nie ruimte is om eers te begin om al die vrae te opper nie. Boonop wil dit voorkom asof die implikasies wat die voorstel inhou, uiters diskriminerend kan wees omdat dit op die oog af nie finansiële- en erfopvolgingstrukture wat meer gesofistikeerd is, sal raak nie. In die lig van die regering se oënskynlike benadering tot belasting wat meer welvarende individue raak – soos die verhoging van die insluitingskoers op kapitaalwinste toon – lyk dit of hierdie slegs ’n eerste kru poging is om bates wat in truststrukture gehou word, by te kom. Of die regering uiteindelik hiermee sukses kan behaal, sal net die tyd leer.
Baie familiestrukture is in die verlede geïmplementeer sonder ’n langtermynplan of sonder om die langtermynbehoeftes van die uiteindelike begunstigdes in ag te neem. Baie dinge het intussen verander en dit is nou belangriker as ooit dat die strukture met die hulp van kundige en ervare adviseurs geëvalueer en aangepas word om seker te maak dat dit in die toekoms optimaal sal funksioneer.
Tenk (FH) Loubser is ’n direkteur van TLA Wealth and Advisory Services. view profile>