Bestaande en nuwe Suid-Afrikaanse diskresionêre trusts wat lenings aan verbonde persone (persone met ’n direkte of indirekte belang in die trusts) verskuldig is mag in die toekoms nie meer dieselfde beskerming bied teen boedelbelasting as voorheen nie.
Dit is indien die aanbevelings van die Davis-belastingkomitee (“die Komitee”) in sy tweede en finale verslag op Boedelbelasting aan die Minister van Finansies aanvaar word en in belastingwetgewing deur die Parlement gepromulgeer word.
Waar ’n rentevrye of lae-rentekoers lening deur ’n verbonde persoon aan ’n trust voorgeskiet is, sal so ’n persoon geag word om effektiewe beheer oor die trust te kan uitoefen. Die Komitee beveel aan dat so ’n verbonde persoon onderhewig moet wees aan inkomstebelasting op rente op sulke lenings teen ’n koers wat nie laer as die amptelike rentekoers (tans 8%) beloop nie. ’n Verdere aanbeveling is dat die anti-vermydingsbepalings in die Boedelbelastingwetgewing gewysig moet word om te bepaal dat die onderliggende bates in die trust by die afsterwe van die verbonde persoon by sy of haar boedel ingesluit moet word. Dit beteken dat dit onderworpe sal wees aan boedelbelasting van 20%.
Die komitee se voorstel is dat die sogenaamde geleibuisbeginsel en toerekeningsreël, wat uitkerings en toedelings vir belastingdoeleindes uit diskresionêre trusts magtig, moet wegval. Die gevolg daarvan sal wees dat as ’n bate deur ’n diskresionêre trust besit word, sal die trust as ’n afsonderlike belastingpligtige belas word op die inkomste en kapitaalwinste totdat die bate verkoop of finaal by ‘n begunstigde gevestig word. Vir trusts beloop die belastingkoerse 41% op inkomste en 32,8% op kapitaalwinste. Uitkerings van inkomste en kapitaalwinste aan individuele begunstigdes word tans teen laer koerse belas. Vir individue word hierdie koerse op ’n glyskaal bereken tot ’n maksimum van 41% op inkomste en 16,4% op kapitaalwins.
Wat buitelandse truststrukture betref, gee die komitee toe dat dit baie voordele inhou vir beplanners en dat dit moeilik is om die voordele en selfs misbruike in te kort. Maar die komitee glo dat baie van hierdie strukture in die ope gebring sal word deur die internasionale uitruil van belastinginligting tussen lande wat in September 2017 in aanvang sal neem.
Die komitee beveel aan dat spesiale voorsiening in die Belastingadministrasiewet gemaak moet word om kriminele klagtes teen belastingpligtiges te kan lê wat nie hulle belange in buitelandse truststrukture openbaar nie en dat dit streng toegepas word. Die komitee blyk verder by hul aanbeveling te bly dat alle uitkerings aan Suid-Afrikaanse begunstigdes vanuit buitelandse truststrukture voortaan as normale inkomste belas moet word.
Die komitee het verskeie ander belangrike voorstelle gemaak waaronder die verhoging van die primêre korting vir boedelbelasting tot R15 miljoen per persoon vanaf die huidige R3.5 miljoen, die verhoging van die boedelbelastingkoers vir boedels groter as R30 miljoen van die huidige 20% tot 25%, asook ’n aanbeveling om die belasting van buitelandse aftreeskemas deeglik te ondersoek.
Sommige kommentators voer aan dat net soos in die geval van die Margo Kommissie (1987) en die Katz Kommissie (1997) sal baie min van bostaande voorstelle, veral díe met betrekking tot trusts, uiteindelik in wetgewing vervat word. So ’n siening neem egter nie in ag dat die politieke en ekonomiese toestande vandag heeltemal anders as destyds is nie. Boonop het die minister van finansies die komitee opdrag gegee om te kyk na ander vorme van welvaartbelasting. Hierdie verslag word later vanjaar verwag.
Tenk (FH) Loubser is ’n direkteur van TLA Wealth and Advisory Services. view profile>