Nuwe takswet raak trusts op dié manier

07/2016

Nuwe takswet raak trusts op dié manier

by Tenk (FH) Loubser
B Com (Law), CA(SA), B Com (Hons) (Tax)
Gepubliseer in Rapport 18 Julie 2016

Ná ’n lang tyd van onsekerheid oor wat die wetgewer werklik in gedagte het met betrekking tot die belasting van trusts, is die voorgestelde wetswysigings verlede week vir kommentaar gepubliseer.

Rentevrye lenings aan trusts sal steeds skenkingsbelasting vryspring en bydra tot die vermindering van boedelbelasting, maar sulke lenings sal voortaan aan inkomstebelasting onderworpe wees onder ’n nuwe artikel 7C van die Inkomstebelastingwet.

Indien die wysigingswet op belasting in sy huidige vorm aanvaar word, sal dit op 1 Maart 2017 in werking tree. Dit sal egter op alle bestaande en nuwe lenings wat aan trusts gemaak is of in die toekoms gemaak word, van toepassing wees. Die nuwe bepalings kom daarop neer dat alle lenings aan trusts wat teen ’n rentekoers van minder as die “amptelike rentekoers” gemaak word, anders hanteer gaan word.

Indien ’n natuurlike persoon, of ’n maatskappy wat ’n verbonde persoon met betrekking tot die natuurlike persoon is, só ’n lening aan ’n verbonde binnelandse of buitelandse trust sou maak, moet die verskil tussen die rentekoers op die lening gehef (indien enige) en die amptelike rentekoers jaarliks as geagte rente ingesluit word by die belasbare inkomste van die natuurlike persoon wat direk of indirek betrokke is by die maak van die lening aan die trust.

Die begrip “verbonde persoon” word in die Inkomstebelastingwet gedefinieer. Dit verwys na ’n maatskappy of trust waarin die natuurlike persoon ’n omskrewe inspraak, belang of betrokkenheid het. Net so word die begrip “amptelike rentekoers” in die Inkomstebelastingwet gedefinieer. Dit is die terugkoopkoers van die Suid-Afrikaanse Reserwebank plus 1% en vir ’n randgedenomineerde lening beloop die koers sedert 1 April 2016 8% per jaar. Op ’n R1 miljoen rentevrye lening sal geagte rente dus R80 000 per jaar beloop en die belasting teen die maksimum koers van 41% sal R32 800 vir ’n jaar bedra.

Die verbonde trust wat die voordeel van die lening ontvang, sal net geregtig wees om die werklike rente wat dit betaal vir belastingdoeleindes af te trek. Die geagte rente waarop die lener belas word, sal nie deur die trust as ’n aftrekking vir belastingdoeleindes geëis kan word nie. Die natuurlike persoon sal ook nie geregtig wees om die primêre korting ten opsigte van rente ontvang met betrekking tot die geagte rente in dié geval by sy belasbare inkomste ingesluit word, vir belastingdoeleindes te eis nie. Indien die volle rente tot en met die amptelike rentekoers nie gehef word nie en die verskil by die natuurlike persoon se belasbare inkomste ingesluit en belas word as geagte rente, sal die natuurlike persoon wel geregtig wees om die belasting betaal van die trust terug te eis.

Indien die belasting nie binne drie jaar van die trust teruggeëis word nie, sal dit as ’n skenking deur die natuurlike persoon geag word waarop skenkingsbelasting teen 20% betaalbaar sal wees. ’n Lening wat deur ’n natuurlike persoon of ’n verbonde maatskappy aan ’n verbonde trust gemaak word, sal nie kwalifiseer vir die jaarlikse vrystelling van skenkingsbelasting indien so ‘n lening deur middel van ‘n skenking verminder word nie (die R100 000 vrystelling in die geval van individue en R10 000 in die geval van maatskappye).

Die bestaande wetgewing wat onder andere vervat is in artikel 7 van die Inkomstebelastingwet word nie herroep nie en dit is nie duidelik hoe dit by die nuwe wetgewing sal inskakel nie. Die konsepwetgewing is nie sonder probleme nie en daar is verskeie situasies waar dit onduidelik is wat die invloed van die nuwe wetgewing sal wees. ’n Mens hoop al die probleme word uitgestryk voor die wetgewing gepromulgeer word.


Tenk (FH) Loubser is ’n direkteur van TLA Wealth and Advisory Services. view profile>

 

print this pagePrint this page

 Back to TLA Insights homepage >

Other articles of interest