Welgestelde Suid-Afrikaners word gereeld geadviseer om in die buiteland te belê. Indien ’n belegging in die buiteland met die hulp van kundige en betroubare finansiële adviseurs en batebestuurders gedoen word, kan dit voordele inhou.
Een aspek wat belangrik is om ’n suksesvolle en probleemvrye belegging te verseker, is die belastingimplikasies. Daar is verskeie maniere waarop in die buiteland belê kan word. Elkeen van die opsies het verskillende belastingimplikasies en dit is belangrik om dit te verstaan en daarvoor te beplan.
Tot op datum het baie Suid-Afrikaners daarmee weggekom om beleggings in die buiteland te doen sonder om die inkomste, dividende en kapitaalwinste in hul Suid-Afrikaanse belastingopgawes te verklaar. Die jaarlikse verlies aan belasting vir die staat word op ongeveer R10 miljard geraam. Die belastingowerheid is bewus van hierdie verlies en dit is onwaarskynlik dat dit veel langer sal voortduur.
Dit is in elke Suid-Afrikaanse belastingpligtige wat beleggings in die buiteland het, se belang om te verseker dat die belasbare inkomste en kapitaalwinste wat op beleggings in die buiteland verdien word, korrek en volledig in hul belastingopgawe verklaar word. Een opsie is dat die belegger die buitelandse belegging in sy eie naam doen. Alle inkomste, dividende en kapitaalwinste moet dan jaarliks omgeskakel word na rand en in die belegger se belastingopgawe verklaar word. Die waarde van die beleggings en enige groei daarop sal altyd deel vorm van die belegger se belasbare boedel by afsterwe. Waar die beleggings by buitelandse instansies gemaak word wat geen verteenwoordiging in Suid-Afrika het nie, mag dit noodsaaklik wees om ’n afsonderlike testament in daardie land op te stel en ’n buitelandse eksekuteur in die testament aan te stel.
’n Ander opsie is om ’n langtermynpolis wat deur ’n Suid-Afrikaanse versekeraar by ’n tak van die versekeraar in die buiteland uitgereik is, as ’n platform te gebruik. Omdat die versekeraar in Suid-Afrika gesetel is, kan daar met die polis in die belegger se Suid-Afrikaanse testament gehandel word.
’n Derde opsie wat eintlik net vir die groter en meer welgestelde belegger beskikbaar is as gevolg van die koste en kompleksiteit daaraan verbonde, is om die buitelandse beleggings in ’n inter vivos-trust te hou wat in ’n buitelandse jurisdiksie met ’n lae of ’n nul-belastingkoers opgerig is. Daar is egter ’n hele rits komplekse belasting en ander voorskrifte waarvoor deeglik beplan moet word en wat stiptelik nagekom moet word. Sou ’n belegger hierdie opsie oorweeg, is dit van die uiterste belang om ’n betroubare deskundige te raadpleeg
Tenk (FH) Loubser is ’n direkteur van TLA Wealth and Advisory Services. view profile>